Met “ ’n Fees van Liefde” as tema beloof Suidoosterfees 2012, wat by Artscape plaasvind, ’n program propvol liefde – ’n liefde vir kuns, jou geliefde, vir familie en vir die lewe.
Verskeie bekendes sal tydens die fees optree, soos Vinette Ebrahim en Christo Davids (in My Naam/Name is Ellen Pakkies), Ingrid Paulus en Kim Cloete (in Dit Voel Leeg), die 2011 Kanna-Slurpie-wenner Shimmy Isaacs (in die trefferkomedie "Howzit my Bra"), Emo en Loukmaan Adams (in ’n Plekkie in die Son ... Mitchells Plain se Mense) en Casper de Vries in ’n stoute vertoning spesiaal vir die Suidoosterfees.
Musiekgunstelinge soos Rocco de Villiers, Auriol Hays, Ringo Madlingozi, die Delft Big Band en Kaapstad se bekende, gewilde fopdosser, Odidiva, sal gehore verder vermaak.
Ons vier die liefde vir die visuele met ’n uitstalling van werke deur Walter Battiss. Hy was die skepper van die Fook Island-konsep en sy briljante werke is wêreldwyd beroemd.
Wat is nou beter as om die fees op 14 Februarie met ’n dans te te begin? Die Kuier Valentynsdans sal net die plek wees om die liefde op die dansvloer te laat seëvier.
En vele meer aktiwiteite..... Besoek ons Faceboek-blad of webtuiste vir meer inligting.